MIDDELPOSNAWEEK: 29 – 31 MEI

Doel: om God se hande en voete te wees in ’n gemeenskap wat dit nie breed het nie; om ’n verskil in die gemeenskap te maak deur die skool te bemagtig; om die kinders en mense van Middelpos menswaardig te laat voel deur te fokus op verhoudings bou en sáámdoen.

Vrydagoggend het ons vertrek ná die groot inpak van: 12 fietse; waslappe, seep, tandeborsels, tandepasta, reukweerders, sanitêre doekies, sneesdoekies, nuwe onderklere (meisiesokkies, broekies, seunssokkies, onderbroeke) – genoeg om die skool te help om ’n groot verskil in die eiewaarde van die kinders en hulle alledaagse lewe te kan maak.

En daar was ook die 130 pryse vir die pretloop, wat gewissel het van Middelpospretloop T-hemde, splinternuwe handdoeke en fleece-kombersies, tot die mooiste handgebreide komberse, musse en sokkies.

Vrydagmiddag kon die kinders nie wag om saam met ons te begin doen nie. Terwyl die manne met behulp van die seuns ses houtbankies (vier op die skoolterrein en twee by die gemeenskapsaal) opgesit het, het die vroue en meisies koekies versier. Wat ’n lekkerte! En dit onderwyl Anton Christie ’n werksessie vir die skoolpersoneel en beheerliggaam aangebied het. Vrydagaand het ons saam met bogenoemde volwassenes geëet om mekaar oor en weer te leer ken.

Saterdagoggend het die pretloop wat vanjaar vir die tweede keer aangebied is, 130 deelnemers gelok: kinders, volwassenes en bejaardes. Die jonges het 4km afgelê en die oueres 1km. Die plaaslike polisie het ons gehelp met die uitlê van die roete, opstel van die waterpunt  en om die veiligheid van die deelnemers te verseker. Nog voor die pretloop begin het, het die “tannies” al aangetree om die groente vir die pot te kom skil en roosterkoekdeeg aan te maak.

Ná die opwinding van die pretloop, het almal ’n sappie en worsie gekry om eers weer asem te skep vir die borrels blaas-sessie wat oud en jonk gate uit geniet het. En toe kon die pretloopprysuitdeling begin waarvoor almal gewag het. Die eerste 3 meisies, 3 seuns, sowel as die eerste volwasse man en vrou oor die wenstreep het medaljes gekry. Die res van die deelnemers se name is getrek en uiteindelik kon elkeen ’n prys kies, ietsie wat hulle met hulle deelname verdien het.

Met etenstyd kon ons 200 borde kos skep en die ete is afgesluit met ingelegde vrugte en vla – ’n feesmaal.

 

 

Sondagoggend het Gawie ’n diens gehou en die bywoning het ons verwagtinge oortref. 170 mense het opgedaag en daar was nie genoeg sitplek nie. Na afloop van die diens het die kinders die kernwaardes van die preek met toneeltjies uitgebeeld nl.: omgee, respek, verras en nederigheid. Die kinders het ons gewys wat dit in die praktyk beteken. Die oggend is afgesluit met koekies en tee en ballonne. En elke huisgesin kon ’n klein kospakkie saamvat huis toe en ’n stukkie beleef van God se verrassings.

Die proviand wat julle as gemeente ingesamel het, is in Carin (waarnemende skoolhoof) se sorg by die skool afgelaai. Die skool gaan die verspreiding daarvan koördineer soos dit by hulle planne inpas. Ons is immers net instrumente, maar help om die  skool te bemagtig om ’n tasbare impak op die gemeenskap te maak deur die kinders. Ons het vele stories gehoor uit die gemeenskap en van die onderwysers se kant af oor hoe die skool al hoe meer regkry en die verskil in die kinders se trots en menswees.

Ons hoofdoel is om Jesus se hande en voete te wees, om saam met die kinders en mense van Middelpos alledaagse dinge te doen: te werk, te kook, te eet, te speel, te luister en liefde en omgee en menswaardigheid te bewys. Eers wanneer mense mekaar vertrou, leer hulle mekaar ken en word verhoudings gebou en verstewig. En dis wat ons nou kon ervaar. Na drie jaar begin die kinders en volwassenes ons op die naam ken. Hulle staan nader om te druk en te gesels. Ons leer húlle ken. Ons is besig met langtermynbeleggings. Hulle vertrou, want ons het teruggekom. Ons deel nie “goed” uit nie. Ons gee tyd. En ons leer by hulle van leef en blywees in die oomblik, van ’n absolute mededeelsaamheid, van gestrooptheid, van dankbaarheid.

Baie dankie vir elke gemeentelid wat bygedra het en deurentyd vir Middelpos se skool en gemeenskap bid.

Die gemeentelede wat deel is van die fisiese saamgaan: Gawie en Susan van Broekhuizen; Deon en Daleen Oosthuizen; Frikkie en Amelia van Zyl; Pierre en Comari Schoeman; Slabber en Esté Prins; Willem en Mariyke Esterhuizen; Wynand en Annelie Viljoen; Anton en Melanie Christie.

Ns. Ons kon nie alles wat geskenk is saamneem nie. Die tweedehandse klere/onderklere wat geskenk is, het o.a. gegaan aan Vossie Vos en Edmund O’Healy van Amos-bediening, Ligstraal Skool en ’n gemeente in Mbekweni. Hulle is baie dankbaar!

 

Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_017_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_022_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_029_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_056_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_064_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_094_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_119_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_136_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_145_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_151_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_165_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_169_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_200_resize Gawie Fotos 2015 Middelpos Uitreik_229_resize