Einde September, op ‘n reënerige Sondag na kerk is die 1700 kerrie en rys etes op 6 verskillende plekke in ons dorp onder die armes van die behoeftiges gaan uitdeel. Oud en jonk het al die week voor die tyd die vleis en rys gaar gemaak. In die kerksaal is die bakkies ingeskep voordat die verskillende groepe die kospakkies gaan uitdeel het.

Hoekom doen djy dit? wou een van die ontvangers weet.
Die antwoord kom uit die hart: Dis maar die liefde van Jesus – jy weet. Ons moet mos deel!

‘n Besoek anderkant die spoorlyn laat jou soms met ‘n holkol op die maag. 40% van ons mense is arm in Suid-Afrika. Dit beteken dat hulle nie weet waar more se ete vandaan sal kom nie!

Vir ‘n vlietende oomblik was ons as gemeente die liggaam van Christus.
Dit laat mens dink aan die verhaal van die seuntjie wat in die tweede wêreld oorlog in Italië ‘n stukkie brood by ‘n soldaat gekry het. Hy hardloop toe die soldaat agterna en vra nuuskierig: Is jy nie dalk Jesus nie!