Gedurende die Septembervakansie het ongeveer 60 belydenisklaskidz van ons gemeente vir ‘n week die Kalahari aangedurf. Om te eet van God se Woord, die lekkerste kos in die wêreld, te drink uit die fontein van die lewe en om ander se dors in die Kalahari te les.
‘n Reis van 1000 kilometer na die grens van Suid-Afrika by Askham, maar ook ‘n reis van 1000 ligjare in jou eie siel na die grense van jou lewe. Om te dors na God self en versadig te word!

In die oggende en aande is daar retreat gehou. Dit beteken eintlik dat ons bewustelike, prettige tye saam met God self spandeer het. Weg van selfone, televisies en my eie kamer. Getroop kon ek weer die Onsienlike sien en die Onbegryplike vasgryp. Soms in die Woord van God – soms in die lyfie van die Miermense of Tswana’s van Botswana. Saam met ‘n mentor in klein groepies van 3-4 is daar gewonder, gedroom en geleer. Om in die aande langs ‘n Kalahari-kampvuur my nuwe insigte te deel met die ander pelgrims van die woestyn.
So vlieg die dae verby en ek besef dis waar wat Vader Bonaventure Hinwood gesê het:

‘n Emmer kan die see nie hou nie.
Twee longe kan die hemel nie intrek nie
U wat selfs ligjare nie eens meet nie
U vestig u in die holspier van my hart.

Moet dit nie mis nie – dankie aan die grootmense en jongmense wat ons begelei en gevoed het – met die brood van die ewige lewe!